Die majestueuse Voortrekkermonument in Pretoria (TShwane-streek) is in ‘n natuurreservaat geleë. Dié unieke Monument gedenk die pioniersgeskiedenis van suidelike Afrika en die geskiedenis van die Afrikaner.
Dit is vandag die mees besoekte erfenisterrein van sy soort in Gauteng en een van die top tien kultuurhistoriese besienswaardighede in die land. Die Monument bestuur ook die Erfenisstigting en beheer verskeie ander monumente en kultuurhistoriese terreine landwyd.
Die gedagte om ‘n monument ter ere van al die Voortrekkers te bou, het reeds op 16 Desember 1888 ontstaan, toe pres. Paul Kruger die Geloftedagvieringe by Bloedrivier in Natal bygewoon het. Maar dit was eers in 1931 dat die Sentrale Volksmonumentekomitee (S.V.K.) gestig is om uitvoering aan hierdie ideaal te gee. 
Op 13 Julie 1937 het ‘n sooispitplegtigheid op Monumentkoppie plaasgevind. Die totale koste verbonde aan die oprigting daarvan was £359,600, waarvan die Staat die meeste bygedra het. Fondse is aangevul deur skenkings, verkope van spesiale seëls, gedenkkoeverte, aandenkings en publikasies. ‘n Groot amfiteater is ook in 1949 aan die noord-oostekant van die Monument opgerig, en bevat sitplek vir ongeveer 20,000 mense.
Die besoeker stap deur ‘n swart gietysterhek met ‘n assegaaimotief. Dit stel die mag van Dingane voor wat die weg na die binneland versper het. Dan staan die besoeker binne ‘n groot walaer wat die Monument simbolies verskans.
Dié walaer bestaan uit 64 waens van kunsgraniet. Tydens die Slag van Bloedrivier is 64 waens gebruik om laer te trek. Die walaer dien dus as simboliese beskerming van die Monument – by implikasie beskerm dit die Afrikaner en sy kultuur teen vreemde aanslae. Aan die voet van die Monument, binne die walaer, staan ‘n bronsbeeld van ‘n Voortrekkervrou en haar twee kinders.
Die beeldhouer was Anton van Wouw. Die beeld bring hulde aan die moed en durf van die Voortrekkervrou en Voortrekkergesin wat die Groot Trek en uiteindelike vestiging in die binneland moontlik gemaak het. Sonder hulle bydrae sou die Trek moontlik op niks meer as ‘n verkenningstog uitgeloop het nie, want die Voortrekker het in die volle sin van die woord as “emigranten” met huis en haard na ‘n nuwe vaderland getrek.
Aan weerskante van die standbeeld is swartwildebeeste teen die muur uitgebeitel – simbolies van die gevare van Afrika. Hulle wykende houding impliseer dat die vrou, draer van die Westerse beskawing, triomfeer.